Leonel is Dinsdag in die Johannesburgse Ooghospitaal deur dr. Bernard Wolff geopereer waar gesien is wat die omvang van die skade aan haar ogie is, wat ernstig beseer is na ‘n fratsongeluk Dinsdag, 2 Junie toe sy met ’n skêr wat sy in haar handjies gehou het, geval het.

Hoewel oogspesialis, dr. Corné Gouws, verlede Woensdag die wond toegemaak het, is daar Donderdag, 4 Junie met die ondersoek gesien dat Leonel se retina weens die besering los is, en is sy na dr. Wolff, ‘n vitreo-retinale spesialis, verwys.
Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en die staat doen tans nie sulke delikate operasies soos wat Leonel dringend moes kry om haar sig, en skade aan haar oog te probeer herstel nie.

Sedert die Gazette Donderdagmiddag oor klein Leonel se fratsongeluk berig het, is ‘n trustfonds vir haar gestig wat deur prokureur Stefan Scheepers van Parys geadministreer word.
Mense van oral oor het eenvoudig net hul harte oopgemaak vir die gesin en is binne twee dae
R125 000 vir Leonel ingesamel wat genoeg was om Dinsdag se operasie te kon betaal, en te help met die opvolgoperasies en behandeling wat sy sal nodig hê.
Vir Leonel gaan dit ‘n lang pad na herstel wees, maar pak haar ouers, André en Mari, elke dag in geloof aan.

Hulle sê dat woorde nie kan beskryf hoe ongelooflik dankbaar hulle is vir elke oproep, boodskap, gebed of bydrae. Daar is eenvoudig net te veel name om te noem.
Van kunstenaars wat bereid was om Leonel se storie op hul sosiale platforms te deel, tot die Secret Saints van Vereeniging en ander organisasies en individue wat ingespring het om te help. Elke bydrae word opreg deur hierdie gesin waardeer.

Source: https://vaalweekblad.com/65142/leonel-4-ondergaan-delikate-operasie-na-sker-ongeluk/